Sy Storie

 

Al'astair is lank, lank gelede… op De Aar gebore.In de lig van die latere verloop van sy lewe moet dalk aanvaar word dat dit maar ‘n moeilike geboorte sou gewees het. De Aar is amper in die middel van die wêreld, en was destyds byna in die middel van niks, in die uitgestrekte en soms droë Karoo. Oor die jare het iets van die Karoo se brakwater vir altyd in Al'astair se are agtergebly…  

Hy is as ‘n blote kleuter tot die verhoog verlei-sy Ma het n musieksblyspel, "Kom Dans Klaradyn", geskryf, en met skoolkinders landwyd op die planke gebring – met Al'astair, sy boetie en sy sussie saam op die verhoog:“Ek het met totale verstomming, groot oë en gespitse ore na die musiek en sang geluister, en vir my was dit weergaloos…”

...dit was amper net so 'n Hudson Hornet
...dit was amper net so 'n Hudson Hornet

Maar toe vat die gesin die lang pad na die Boland, Worcester toe, in ‘n bruin 1947 Hudson Hornet. Na die vaal Karoo word Al' astair voluit getref deur die kleure van die Bolandse berge en wingerde, en 'n mengelmoes van kulture: Afrikaanse mense, Engelssprekendes, Franse, Joodse mense, Portugese en Italianers - almal saam.  Hy probeer om rugby te speel, hardloop atletiek, neem klassieke klavierlesse (wat sy musiekonderwyser tot gebed noop), word ‘n lid van die skoolkoor, en neem ook jazz-klavierlesse. Die nimmereindigende wind op Worcester “waai  my kop heeltemal deurmekaar” en op 11 jarige ouderdom skryf hy sy eerste gediggie. Later peroxide hy sy hare groen-wit tydens ‘n skoolvakansie, tot onsteltenis van sommige erg-konserwatiewe onderwysers. Maar die groenerige kop het moontlik baie jare later weer uitgeslaan… 

Dit was in die sixties, en 'n buitengewoon interessante tyd in die Bolandse dorp. In die buite-wêreld was dit die Beatles, die Rolling Stones en Bob Dylan, met stove-pipe broeke en Chelsea boots, en James Bond movies. In die dorp was daar weer Budgie en die Swinging Jets wat Saterdagmiddae in die 20th Century-bioskoop gespeel het, en 'n ander rock-band, die Off-beats, wat ook groot hoogtes bereik het. Al' se latere soul-mate, David Smith, was ‘n vocalist en rock-kitaarspeler in hierdie band. Naweke was dit twist sessions en close dancing. ‘n Hoogtepunt was toe Al'astair op sowat 13-jarige ouderdom meegevoer teenwoordig was toe 'n jong David Kramer, van ongeveer dieselfde ouderdom, met Kevin Bridges op dromme, die hele skool, konserwatiewe onderwysers inkluis, “op ‘n amazing trip gevat” het met ‘n debuut vertoning in die skoolsaal”. David het ‘n “staande ovasie” gekry. En Al'? - “ek was hooked for life….”

...Al' in 'n sportiewe nommertjie van destyds
...Al' in 'n sportiewe nommertjie van destyds

Al' is na skool opgeroep vir militêre diensplig. Hy en die S.A Weermag het nie “so baie goed” klaargekom nie: “”die offisiere kon glad nie verstaan dat ek my geweer in die sand by die skietbaan kon verloor nie”, en ook nie toe hy sonder ‘n pas “vir ‘n ou paar daggies by 'n meisie gaan kuier het” nie. Gelukkig was hy nooit deel van enige regte oorlog nie "want dit sou nie so lekker gewerk het nie."

Tydens studies na skool werk hy tydens die vakansies as ‘n koerantverslaggewer by Die Burger, as arbeider in Sasolburg, en as assistant tot 'n lorrie-drywer op die Spoorweë:“die drywer noem vir jou ‘maat’, en jy noem vir hom ook ‘maat’. In die oggende sê jy “ môre maat’ en dan sê hy ook ‘môre maat’. En as hy ‘n fout maak is dit altyd jou skuld.” Al'astair probeer ook op ‘n stadium om chipboard blokkies te bemark vir ekstrra sakgeld, maar met beperkte sukses.Intussen dien hy in die redaksies van veskeie studente-publikasies, en volg sy studies “soms met die hulp van die notas van kamermaats wat meer klasse bygewoon het.”

Hy en “my buddie Peter Raubenheimer” vorm ‘n serenade duo, en sing snags vir die girls “dikwels totdat ons weggejaag word.” Hulle “gatecrash feitlik” ‘n klassieke sangfees, vermom met Skotse rokkies en vals baarde en snorre, en tot hulle verstomming ontlok hulle ‘n encore.

...Al' en sy lewenlange girlfriend
...Al' en sy lewenlange girlfriend

In sy tweede-laaste jaar van studies raak hy "vir ewig verlief" op sy "Babe uit die Karoo". Hy en sy woon nou al langer as die lewe in dieselfde huis in 'n middelklas area. Buite staan daar 'n erg mankolieke ossewa onder ‘n boom, waarvan "die agterwiele pap geword het". Hy hou ook 'n paar motorwrakke uit die 60's en ouer aan, "want as die een breek ry mens met die ander". Hy vertel dat hy oor die jare die verband oor sy woonhuis “baie mooi grootgemaak het” en sê: “My naam is Bond…mortgage bond.”

Verskeie van Al'astair se songs gaan oor geregtigheid, die underdog en die omgewing. Straatkinders word baie sensitief belig in Straatkind, bergies tree na vore in Strate van die Kaap en in Lank lank lank gelede , ’n hoenderdief duik op in Japie, en ‘n endearing krimineel in die song Blou Trane.. Maar dan wissel hy dit af met sy oorlé hond “Fanie” (vernoem na een van sy jarelange heel beste vriende) en‘n “two-stroke ducktail op ‘n Vespa Sport” in Hell’s Angel. Daar is ook ‘n hele aantal baie romantic songs soos Marissa, Siel Steel en Babe uit die Karoo , asook heelwat soul en blues soos in Melkweg Blues en As jy staan op die Maan..

In die dae van apartheid het hy een nag op Langebaan, voordat 'n baie spesiale vriend hom kom besoek het, ‘n "net blankes" teken met wit verf gaan weg-verf. Sy verf het ongelukkig oornag teen die bord afgeloop, en die gewraakte woorde was duidelik sigbaar toe die vriend opdaag. Sy vriend het spontaan vermoed dat Al'astair die oornag-verwer was.Toe sy vriend hom oor sy vakmanskap spot, was sy ietwat verleë antwoord: “Ai tog, dit is seker wit trane….

Song Of Saldanha | Lied Van Saldanha
Song Of Saldanha | Lied Van Saldanha

Oor die jare het Al' in sy eie kontrei bekend geword as omgewings-aktivis. In 1995 pak hy, kort nadat hy meegevoer is deur Nelson Mandela se “Long walk to freedom”, heeltemal op eie houtjie vir Yskor, Saldanha Staal asook verskeie staatsdepartemente oor die staalfabriek wat hulle digby die see by Saldanha beoog het. Dit het internasionale opspraak verwek, en op tv-nuus is verwys na “n stryd tussen Dawid en Goliat”. Al' en sy gesin was onmiddellik gedompel in enorme finansiële risikos, en hulle het vir sowat‘n jaar lank uitmergelende stres beleef. ‘n Enorme veldtog teen die fabriek met ‘n veelvoud rolspelers het ontbrand, ‘n intensiewe omgewings-ondersoek het gevolg, en die veldtog teen die fabriek is oor baie maande aan die gang gehou. Intussen het Yskor en Saldanha Staal ook ‘n appél aangeteken na die Appélhof Bloemfontein, teen Al'. Die fabriek moes egter uiteindelik ietwat verder van die see skuif, en die omgewingswette in Suid-Afrika is drasties verbeter. Dit alles was 'n draaipunt in Al' se lewe: sy eerste song, Lied van Saldanha, is gebore uit die rou emosie van hierdie saga, en Neuk, Justice en Droomtowenaar kom ook uit hierdie tyd. Hy record Lied van Saldanha in ‘n stowwerige studio in Goodwood, met Barry Marais as klankingenieur, en met Gerard Huizinga van Berklee Studio in Panorama, Parow, wat hom probeer leer om in beat kitaar te speel en te sing. Maré Mouton maak ‘n baie mooi cover vir die 4-track tape, Al' laat sowat ‘n 1500 tapes maak, hy vertel die storie van die staalfabiek op die keersy, en hy deel die tapes uit in die Langebaan-area om die bewustheid oor die omgewing te versterk.

Nie lank na die Saldanha Staal saga, het Al' verdere omgewings- veldtogte op eie houtjie geloods, eers om 'n stedelike openbare groen ruimte van ontwikkeling te red, en daarna weer ‘n stedelike natuurpark. Hy het ook die Khula Arts Trust help oprig, vir die onderrig in die uitvoerende kunste van voorheen benadeelde kinders uit die Kaapse townships, asook ‘n omgewingstrust vir die Noordelike Voorstede van Kaapstad.

Die gogga van liedjies-skryf en sing het in 1995 finaal gebyt. In 1996 skryf Al'astair altesame 10 songs wat hy ook op 4-track tape opneem, en met Kersfees aan kliënte en vriende versprei.

Al' dryf in 1996 toevallig op sy eie werf vas in die musikale guru Andrew Roos, tans van Brakmusiek Studio in Ermelo. Die bekende klank-ingenieur, Conrad Jamneck, het toevallig op daardie stadium in ‘n ouma-woonstel agter Al' se huis ingetrek, en het Al' se songs vir Andrew gespeel. Conrad was dus die kontakpunt met Andrew, en het verdere sinergie tussen Al' en ander musikante veroorsaak, insluitende vir ‘n tyd met Paulo Azevedo, later van Eden.

...Neuk vertoning KKNK 2002,  Al' en Pel 2 en Pel 3
...Neuk vertoning KKNK 2002, Al' en Pel 2 en Pel 3

Andrew moedig vir Al' daar en dan aan om sy songs verder te vat, en Al' sê "Andrew was sonder enige twyfel die belangrikste musikale invloed en ondersteuning in sy hele lewe.

Met Andrew se motivering en musikale ondersteuning waag hy dit om na die “groot en onbekende stad Johannesburg” toe te gaan vir opnames. Andrew tree op as die arranger en keyboard-speler, en doen ook die projek-bestuur. Met groot name soos Andrew, Willem Möller, Philip Moolman, Mauritz Lotz en Karen Meiring wat meewerk as sessional musikante en as sangers- “die skape, die bokke en die nagtegaal”- neem hulle in 1998 die CD My Hond Fanie op in Willem se Sharp Street Studios. Die cover word ontwerp deur Maré Mouton van Icon Communications, en Marianna Malan van Die Burger plaas ‘n artikel en maak spesiale melding van Maré Mouton se keurige grafiese ontwerp. Al' meld op die cover dat hy op soek is “na die 1 van die N1, maar ook na die 2 van die twee-spoor.” Die CD word baie goed ontvang: Die Burger lys dit onder die luisterbare bundels van die jaar, RSG speel gereeld van die songs oor die lug, Fine Music Radio voer 'n onderhoud met Al'astair, en SA Rock Digest prys "Hell's Angel" (ook bekend as "Two-stroke Ducktail") hoog aan, en lys Al'astair onder die "SA Rock Legends".

Al' en pel 1 by KKNK 1999. Al' uitgedos in sy
Al' en pel 1 by KKNK 1999. Al' uitgedos in sy "Skotse lingerie" want "as dit vir Madonna gewerk het, kan dit vir my ook werk...

Al' loop toe vas in “Pêl Een”, Graham Taylor, wat met sy eksentrieke persoonlikheid en op lead kitaar ‘n eiesoortige vibe met hom saambring. Die duo staan bekend as “Al' en sy Pêl”, en die twee se spontane genot en humorsin blyk duidelik as hulle bymekaar is. In 1999 tree hulle vir die eerste keer by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) op, met net‘n paar impromptu vertonings. “Al' en sy Pêl” dra honde-halsbande om die nek. Al' dra sy verslete groen kamerjas met Skotse motief op die verhoog: “want as lingerie dit vir Madonna kon doen, kan my ou kamerjas dit vir my doen.” “Pêl Een”vind dadelik aansluiting hierby deur van tyd tot tyd sy melkwit bene en sy boxer shorts op die verhoog ten toon te stel, opsetlik op die verkeerdste moontlike oomblikke. Later word die groep herdoop na “Al' en sy Pêlle” toe Marius Doubell hom as “Pêl Twee” byvoeg op bas, met Cassie van Zyl vlietend op keyboard as “Pêl Drie”. Cassie en Al' word lewenslange vriende in die proses.Al' en sy Pêlle sluit hulle ook “heeltemal omgedop” aan by groot minne-sangers, deur in plaas van rose, honde-beskuitjies en Bob Martins-pille by shows uit te deel

In 2001 en 2002 is “Al' en sy Pêlle” in volle swang by die KKNK, eers met "My hond Fanie" en daarna met "Neuk". Marianna Malan van Die Burger doen ‘n baie positiewe artikel met ‘n groot foto, en JP Nel van Tydskrif-Rapport doen ‘n kleur-artikel oor verskeie bladsye. Hierdie twee artikels veroorsaak ‘n sensasie rondom die groep, en hulle trek vol sale.Daarna maak Kyknet ‘n video van Al' se lied "Straatkind", met “Al' en sy Pêlle” as die akteurs, en dit word op die program Geraas ge-beeldsend..

Hulle volg dit op deur gereeld in teater-restaurante op te tree, vanaf Bellville, Stellenbosch en Wellington, tot in Robertson, Beaufort-Wes, Velddrif en Knysna. Maar, soos dit alle goeie rock-bands betaam, ontbind die groep later in 2002. Al' word 'n solo-kunstenaar. Hy open twee keer vir Mathys Roets, en tree ook verskeie kere op as gaskunstenaar vir Richard van der Westhuizen, Lochner de Kock. en Andrew Roos. Al' noem vir Richard “Ritgert”, vir Lochner “Logaritme”en vir Andrew noem hy “Aandraai.” Hulle weer verdoop hom na “Allesdaar”. Deur hulle ontmoet hy ook vir wyle Harry Knepscheldt, die vermaarde saxofoon en mondfluitjie speller.

In 2004 maak Kwêla 'n video van "My hond Fanie" wat herhaaldelik op Kyknet gewys word, met Al' en sy hond genaamd Fanie in die hoofrolle. Nie lank daarna gaan Fanie sag heen, op feitlik dieselfde wyse as wat alreeds in 1998 deur Al' beskryf is, in die lirieke van My Hond Fanie.

Maar toe skryf Al'astair heelwat meer as net 'n lied of twee: Sy boek, The Giant Puzzle, wat handel oor al die stukkies waaruit persoonlike verhoudinge bestaan, verskyn in 2005 by Stormberg Uitgewers. Verskeie koerante en tydskrifte skryf positiewe artikels oor die boek, o.m. Huisgenoot, You en O Magazine. Die boek word op Cape Talk Radio bespreek, en ‘n feitlik volblad artikel verskyn in The Argus. Die boek eindig met ‘n soulful “song oor life” genaamd Giant Puzzle. Die bekende radio persoonlikheid Liza Chiat meld The Giant Puzzle op haar web-tuiste, en Ruth Tearle, die skryfster van die internasionale best-seller Ride The Wild Tiger, beveel ook The Giant Puzzle aan op haar webtuiste

... Al' en Loit Sôls bevriend vir skillie...
... Al' en Loit Sôls bevriend vir skillie...

In 2005 tree Al'astair weer by die KKNK op, dié keer saam met Loit Sôls, bekende digter/filosoof van die Kaapse Vlakte, en die musikant Les Javan. Hulle skryf saam 'n musiek-kabaret genaamd "Stout vannie aarde". Die Burger noem dit agterna 'n goeie voorbeeld van kruisbestuiwing tussen kultuurgroepe, nogal in dieselfde paragraaf as die einste David Kramer wat hom ook in die sixties in die kosmopolitaanse gemeenskap en windverwaaide strate van Worcester bevind het.

In 2006 keer Al'astair terug na die KKNK met 'n eenman-vertoning genaamd "Dik-Strik 7'n kranksinnige musikale hofsaak". Hy oefen vir die vertoning in Berklee Studio, Panorama, Parow, van Gerard Huizinga- “die vrolike Hollander”. Die stuk vertel die verhaal van die ou Suid-Afrika as 'n land van melk en heuning wat alleenlik sommige bevoordeel het, en handel oor skuld en onskuld. Dit begin met die woorde “skuldig-onskuldig…onskuldig- skuldig…skuldig-onskuldig…..”. Dit bou uiteindelik ‘n brug na die toekoms en na self-aanvaarding, en eindig met die song Giant Puzzle:

want ek’s ‘n perfect fit...ek’s ‘n perfect fit...vir my stukkie..van die puzzle..
en jy’s ‘n perfect fit…jy’s ‘n perfect fit…vir jou stukkie…van die puzzle.
die beautiful… pragtige...lieflike ...giant...puzzle

Dik-Strik 7 – 'n kranksinnige musikale hofsaak
Dik-Strik 7 – 'n kranksinnige musikale hofsaak

Na "Dik-Strik 7" het Al' homself vir 'n tyd onttrek, en soos sy goeie vriend Dirk Hattingh sou sê: "laagelê en niemand gehinder nie." Ongeveer hierdie tyd, of nie lank daarna nie of daarvoor besluit Al' om op 'n roadtrip te gaan met sy maatjie van skooldae af, Maré Mouton. Al' start sy 1948 Pontiac op, gaan tel vir Maré op, en die twee vertrek op ‘n epiese rit vanaf Stanford deur die Klein Karoo, oor Tradouw Pas, deur Montagu, Barrydale, Calitzdorp, Ladysmith, Oudshoorn en George, en toe weer terug na Stanford, deur Swellendam. Die Pontiac se self-starter breek langs die pad maar die twee gaan maar so voort, met hoofligte wat volgens Maré soos “klein geel kersvlammetjies in die wind waai, en waarvan die moeg-strale voor oor die bumper afbuig na die teerpad.” Hulle stop verskeie kere, en hou ‘n opelug-konsert in Tradouw Pas vir diegene wat wil kyk en luister en ook vir dié wat nie wil kyk en luister nie, en beland selfs op ‘n video opname van ‘n groep toeriste, met Al' op kitaar en vocals, en Maré as drummer op ‘n beesvel-trom. In Tradouw Pas ry hulle in mistige reën, en sien plotseling hoe die strale van die son deur die misreën breek, in sagte skakeringe van oranje, geel en goud.Al' sê vir Maré: “Kyk Maré, ons ry in die hemel in…” Die grand finale van hierdie epiese tog vind plaas by wyse van ‘n ongenooide konsert in die pub van die destydse Royal Hotel in Ladysmith. Op een of ander wonderbaarlike manier maak hulle dit darem terug tot in Stanford.

Einde 2008 raak Al' een oggend wakker met 'n beklemming dat hy dalk weer planke toe sal moet gaan – dié keer ses voet onder die grond – en dat van sy nuwe songs nooit gehoor sal word nie. Hy word gemotiveer deur ‘n vriendin wat hom vertel dat sy ‘n plantasie olyfbome op ‘n droë plaas aangeplant het, en ook ‘n huis aangebou het, sonder dat sy geweet het of daar water sal wees,bloot omdat dit vir haar “reg gevoel het”, en toe wel water raakgeboor het. Hy maak inderhaas weer 'n afspraak met maestro Andrew Roos, en wend hom in Januarie 2009 weer na Ermelo. Die CD Blou Trane word by Andrew se Brakmusiek Studio in Ermelo opgeneem "met regte viole, tromme, trompette en kitare". Andrew is weer eens die projekbestuurder, arranger en musikale energie agter die projek.. Die hoogstaande grafiese kunstenares, Christa van Zyl , doen ‘n pragtige cover ontwerp, met Al' se 1936 Dodge wat in die agtergrond feature. Die bundel kry ook'n uitstekende ontvangs in die media, en Al' ontspan sommer dadelik.

Kort daarna neem hy “bewusteloos” deel aan die Weskus Pub Idols by Vlakvarkgat, naby Langebaan. Hyself was geheel onbewus van die kompetisie, en wou “net vinnig Hell’s Angel sing, vir ‘n ou met ‘n spierwit droopy snor, wat vir my net soos die karakter wat ek in die song beskryf, gelyk het.” Al' vra toe of hy maar oor die klankstelsel kan sing, en hulle sê ja. ‘n Mooi blondine kom vra hom daarna vir sy naam en telefoonnomer,en hy dink dadelik sy het seker ‘n crush op hom.. Later die oggend kom hy egter agter dat sy ‘n beampte vir uitdunne van die Weskus Pub-Idols is, dat sy dink dat hy ‘n deelnemer is, en dat hy per abuis hulle klankstelsel gedeel het. Tot sy verbasing kondig die organiseerders hom later die oggend aan as die wenner van die semi-finals waarvoor hy nooit ingeskryf het nie!

Tydens Paasnaweek 2008, kort voor Harry Knepscheldt se skielike latere dood, duik Harry en sy vrou Rita sonder aankondiging by Al' in Langebaan op. Dis baie koud en Al' het nie ekstra komberse nie. Al' hak die sitkamer-gordyne af en Harry en Rita slaap onder die gordyne.Harry hou een aand ‘n aangrypende spontane vertoning op Al' se stoep in Langebaan “met mense wat soos nagmaalgangers een vir een uit die donker mistighied verskyn, en ‘n kring op die grassie voor die stoep vorm, om stil na Harry se hemelse musiek te luister.”

..die nog mense...
..die nog mense...

Die vakansies op Langebaan bring ‘n ander toevalligheid. Al' ry een aand per ongeluk sy vakansie- buurman se wasgoedlyn om, en hy raak vir die buurman liewer as vir die lewe. Uit dié ongelukkie word 'n nuwe groep gebore – Al' en nog Pêlle – met die buurman (met die nat wasgoed) as Facelift de Villiers op tromme, en jarelange soul mate, Titanium Tony, op lead kitaar. Sy ander “vir nog ‘n miljoen jare vriend”, Double-Trouble Engelbrecht, wat die lewensmaat is van die bekende verhoog-persoonlikheid Marinda Engelbrecht, se dienste word sonder sy mede-wete deur Marinda beskikbaar gestel as baskitaarspeler, vir ‘n vertoning deur Al' in Die Boer Teater-restaurant, Durbanville.

Al'astair
Al' doen 'n een-man vertoning by Delycia van der Merwe se awards evening
Double Trouble moet homself noodgedwonge binne ‘n kort tydperk leer om double base te speel, en word so ook lid van ‘n nuwe groep, wat “Al' en nóg Pêlle” gedoop word. Die groep is gou in aanvraag en tree by verskeie venues op. Intussen doen Al' steeds solo vertonings by huiskonserte van sy ander maatjie van ‘n miljoen jaar, die digter-sanger Hennie Nortjé, en ook as ‘n gaskunstenaar by “awards evenings” van Delycia van der Merwe se musiekskool in Bellville.

In 2010 skryf Al' weer ‘n boek, genaamd “Nerves of Steel??….perhaps in a millions years from now...” Hierdie boek handel onder meer oor die “binnekant” van die omgewingstryd rondom die Saldanha Staal-fabriek, en vertel ook Al' se lewensverhaal. In dieselfde jaar plaas Al' sy musiek op Rhythm Records se webwerf, waar songs oor die internet afgelaai kan word. Hy stuur ook sy bundel “Blou Trane” vir RSG. Sy song Lank lank gelede beland op RSG se speellys, en gaandeweg word dit omtrent elke dag gespeel en word 'n soort radio treffer. Mense begin Al' van ooral oor te kontak om te verneem waar hulle die bundel “Blou Trane” in die hande kan kry.

In 2011 styg "Lank lank gelede" eers tot die boonste 20 songs wat by Rhythm Records afgelaai kan word, en later tot die top 10, uit sowat 80 000 tracks wat op die webwerf beskikbaar is. Sarah Theron record vir Neuk op haar album “Sit die ketel aan”, en daarna ook vir “Bakke vol liefde” op haar bundel “D-Cup”. Al' se bundel Blou Trane word al meer bekend en gewild, en "As jy staan op die maan" beland ook op RSG se speellys. Later in 2011 beland Blou Trane ook op Radio Houtstok danksy die spontane ondersteuning van Bessie de Kock, wat Al' onmiddellik verdoop na sy Houtstok Marketing Executive. Al' besef uiteindelik dat hy sy CDs in die winkels moet kry, en begin eindelaas, sowat sestien jaar nadat hy sy eerste song gemaak het, ordentlik planne hiervoor te maak, en gaan lewer persoonlik sy bundels af by Vonk Musiek in Johannesburg. Hy maak kort daarvoor ook ‘n draai by Maré Mouton van Icon Communications in Stanford, en skepper van die hoogstaande Village Life Magazine, om “so ‘n website met net die heel beste grafiese-kuns te laat ontwerp…” Maré aanvaar die opdrag en ‘n website word gebore wat vanuit alle oorde komplimenteer word.

Tussen al die bostaande gebeure maak Al' en Janita vier pragtige kinders groot, en gaan hy voort met sy “dagwerk” waar hy “as ‘n soort dienste- smous” werk.

En wat sê Al'astair verder van dit alles? Al wat hy sê is:

"die ou lewe gebeur met die mensdomme – 'n mensdom laat nie die ou lewe gebeur nie."

Al' gee darem toe dat die lewe op die oomblik besig is om nog songs deur hom te laat gebeur. Maar, sê hy:

"Soos Loit Sôls gesê het: 'Niemand het nog ooit 'n song geskryf nie… die songs is daar buite in die wind en in die blare… hulle wag maar net geduldig om ontdek te word.’ "